Lekker mens – Armand Steenkamp
Die Kaapse Weskus het deur die jare al ’n aantal sangers opgelewer wat nie net in daardie deel van die land gewild was nie, maar wie se musiek by ’n breë gehoor oor die hele land aanklank gevind het.
Worsie Visser en Zak van Niekerk is albei jonk oorlede, maar Wicus van der Merwe en Andries Vermeulen is maar net twee wat nog aktief is in die musiekbedryf. Nou het ’n nuwe kunstenaar, wat van dieselfde deel van die land af kom en klaarblyklik deur hulle beïnvloed is, tot die bedryf toegetree.
Armand Steenkamp se debuutalbum, Lekker mens, is in Desember 2018 vrygestel en die titelsnit, wat hy self geskryf het, het die potensiaal om ’n treffer te wees. Die woorde is nie te oppervlakkig nie, maar nogtans vrolik en daarom luister ’n mens veel eerder hierna as na ander kunstenaars wat dink die lewe is ’n grap. Armand het ’n paar van Worsie Visser se komposisies ingesluit; gelukkig nie net die bekendes nie. Die eerste hiervan is “Boesmanland-blues”, waarop Henning Joubert konsertina speel. “Bloumaanlig-vrou” is nog een van Armand se eie komposisies, en Wouter van de Venter wys hierop hoekom hy van ons land se voorste kitaarspelers is. “Dollie Dolla Malan” is ’n komposisie van Tony Hyman, een van daardie liedjieskrywers waarvan ’n mens dalk al vergeet het. Tony was deel van die groep Die Wiltons wat dié liedjie oorspronklik gesing het. “Goetters wat jy like” is nog een van sy eie komposisies en hierin sing hy van die dinge wat lekker is te midde van moeilike omstandighede. “Dis sy”, wat hy ook self geskryf het, is een van die lekkerste snitte op die album.
Soos Zak van Niekerk, kan Armand mondfluitjie speel, soos ’n mens op sy komposisie “Diep steek en lank lê” kan hoor. Dis nog ’n lekker snit wat die dansvloere vinnig vol sal kry. “Hentiesblaai se blou” het ’n effense rock-klank; weer eens kan ’n mens Wouter van de Venter se uitstekende kitaarwerk duidelik hoor. “Jakkalsdraai” is nog ’n snit wat die dansvloere vol sal kry. Daar is egter net een woord wat nie gesê word nie, maar gesuggereer word; en dis ’n jammerte. Daar is twee liedjies oor Mc Dougallsbaai naby Port Nolloth aan die noordekant van die Kaapse Weskus. Daar is die een wat Basjan Nieuwoudt geskryf en gesing het, maar die een wat Armand opgeneem het, is deur Worsie Visser geskryf. “Patrys se wille witblits” is die laaste snit op die album wat Armand geskryf het. “Ek is ’n rekkie” is nog ’n komposisie van Worsie Visser, en Tolla van der Merwe het natuurlik ook ’n storie hieroor vertel. Jy moet self besluit of jy daarvan hou of nie. Hoewel Francois Hayes nie van die Weskus af kom nie, was sy musiek ook op daardie gehoor gemik. Die laaste snit is ’n keurspel wat bestaan uit “Karolis”, een van Francois se grootste treffers, en die volksliedjie “Hier’s ek weer”.
Soms gebeur dit dat mense wat nie van die Weskus af kom nie, nie die leefstyl van daardie deel van die land verstaan nie, en neersien op die musiek wat van daar af kom. Daarom is nie alle kunstenaars wat van die Weskus af kom, ewe suksesvol nie. Armand het egter die potensiaal om landwyd gewild te word; daar is oorgenoeg snitte wat op ’n breë gehoor gemik is en wat radiolugtyd verdien.
Skrywer
Daantjie Dinamiet
Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.