Kort broek lang kouse – Rocco de Villiers

Die afgelope paar jaar het Rocco de Villiers homself as seker een van ons land se voorste pianiste gevestig.
Met albums soos Beautiful beautiful piano, Country keys, Stunning en Beautiful hymns het hy hoofsaaklik ’n vermenging van bestaande wysies en sy eie komposisies ingesluit, maar sy jongste album, Kortbroek langkouse, bestaan uit niks anders as oorspronklike komposisies nie.
Die eerste snit, “Goeie gevoel”, is ’n lekker vrolike komposisie en verdien om gereelde radiolugtyd te kry. Die titelsnit is nog ’n hoogtepunt op die album; nog ’n moontlike treffer wat hy self geskryf het. “Wat om te dra agter op ’n bakkie” het ’n interessante verhaal; gewoonlik wonder ’n mens waar instrumentaliste titels vir hul komposisies kry, maar in hierdie geval was dit na aanleiding van sy motor wat op pad na ’n konsert toe onklaar geraak het en die feit dat hy ’n geleentheid agter op ’n bakkie gekry het om uit te kom by die plek waar hy moes optree. Dit was die eerste enkelsnit vanaf die album en dis maklik om te verstaan hoekom. Juan (Floors) Oosthuizen se kitaarwerk op hierdie snit is ook besonder goed. Die volgende snit is “Klein dorpie, groot drome”, en weer eens is die musikale verwerking daarvan baie goed. “Vanaand kan ek dans” is dalk nie so vrolik as wat die titel voorgee nie, maar dis ’n baie mooi snit. Die eerste van twee snitte met ’n Engelse titel op die album is “Escape from the ordinary life”.
Die eerste rustige snit op die album het die interessante titel “Reën kan jy nie koop nie”; dit stel sy veelsydigheid as pianis en komponis baie goed ten toon. Op “Tango for 2 saints” is dit nie net Rocco se klavierspel wat uitsonderlik goed is nie, maar ook Juan (Floors) Oosthuizen se kitaarwerk. “Nooit te laat (om lief te hê)” is ’n baie mooi snit. “Blom” is nog ’n snit wat Rocco se rustige kant wys, en Lizelle le Roux speel op hierdie snit viool saam met hom. “Wees net jouself”, die laaste snit op die album self, is die kortste snit op die album en dis regtig ’n jammerte. Vir diegene wat dalk sy vorige albums misgeloop het, is daar goeie nuus, want drie van sy vorige treffers is ook hier ingesluit. “Kla-1, kla-2, kla-3, kla-4” was oorspronklik op die album Stunning; die snit en die musiekvideo was albei baie gewild. “Anna aeroplane” was oorspronklik op sy album Country keys; weer eens is dit sy eie komposisie. Rocco het “Roccobilly” saam met Marius Brouwer gekomponeer; dis maklik om te verstaan hoekom dit so gewild geword het.
Met hierdie album het Rocco weer eens gewys hoekom hy een van ons land se beste instrumentaliste, en sonder twyfel die beste pianis op die oomblik, is. Nie net kan hy verskeie tipes wysies komponeer nie; sy klavierspel is uitsonderlik en sy verhoogpersoonlikheid is regtig iets besonders. As jy nog nie aan sy musiek blootgestel is nie, kan jy hierdie album gerus by jou versameling voeg, soveel te meer as jy reeds ’n aanhanger is.

Skrywer

Daantjie Dinamiet

Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.