Daai ding – Ivan Roux
Met die eerste reeks van VIA TV se werklikheidsprogram Die kontrak het die kykers vir die eerste keer kennis gemaak met Ivan Roux, wat toe al ’n paar jaar lank gesing het, maar sy kans gekry het om ’n indruk in die musiekbedryf te maak.
Ivan is as naaswenner aangewys, maar dit het hom nogtans die kans gegee om nie net sy debuutalbum uit te reik nie maar ook by Afrikaans is Groot te kon optree. Die titelsnit van die album, “Daai ding”, is reeds ’n radiotreffer en die musiekvideo is uiters gewild. Dié liedjie, geskryf deur Johan Oberholzer, het ’n effense “glam rock”-klank en ’n mens kan verstaan hoekom dit ’n treffer geword het. Johan het ook die volgende snit, “My rede”, geskryf, maar Ivan kon dit netsowel vir sy vrou geskryf het. “Dis liefde”, nog ’n komposisie van Johan Oberholzer, is nog ’n moontlike treffer. “Foutief” is ’n pragtige ballade wat ’n ander kant van hom wys. Dit is die laaste splinternuwe snit op die album; hopelik sal dit ook radiolugtyd kry. Die res van die album bestaan uit die liedjies wat hy in Die kontrak gesing het.
Die eerste hiervan is ’n uitstekende weergawe van Michael Lindt se treffer “Is jy nie meer lief vir my?”; dis dalk beter as die oorspronklike weergawe. Ivan se weergawe van “Engel” sal sekerlik Karen Zoid se goedkeuring wegdra. “Vier seisoene kind” is een van twee liedjies wat deur Laurika Rauch gewild gemaak is en wat hy ingesluit het. Eden was die groep wat “54 5de Straat” oorspronklik gesing het, en dis eintlik snaaks om ’n weergawe deur ’n solokunstenaar te hoor. Ivan se weergawe is selfs beter as die oorspronklike een. Dis moeilik om te glo dat “Kinders van die wind” vanjaar veertig jaar oud is. Dit was een van die liedjies wat Afrikaanse musiek in ’n nuwe rigting ingestuur het en dit is as die grootste Afrikaanse liedjie tot nog toe aangewys. Natuurlik het ’n spul kunstenaars dit al opgeneem sedert Laurika Rauch dit gewild gemaak het, maar Ivan se weergawe is regtig uitstekend. Die laaste snit op die album is die opname van 5 seconds of summer se treffer “Young blood”, soos dit in Die kontrak voorgekom het. Uit hierdie opname kan ’n mens agterkom dat hy ook baie goed op die verhoog is.
Ivan is ’n bewys dat harde werk soms nie net nodig is nie, maar ook die beste manier is om tot die musiekbedryf toe te tree. Die kontrak was die hupstoot wat hy nodig gehad het om ’n indruk te maak, en noudat sy debuutalbum vrygestel is, lyk dit asof daar ’n blink toekoms vir hom voorlê.
Skrywer

Daantjie Dinamiet
Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.