Country things – Alan Ladd
Dit gebeur nie sommer dat twee broers sukses met dieselfde musiekgenre behaal nie, maar dit is presies wat die country-broers Kupido en Alan Ladd, wie se regte name Johan en Louw Wessels was, of is, reggekry het.
Kupido het veral in die 1980’s groot sukses as solokunstenaar en as Cora-Marie se sangmaat met country-musiek behaal, maar hy is in 2016 oorlede. Sedertdien het Alan Ladd, sy jonger broer, al hoe gewilder as country-sanger geword en sy jongste album, Country things, is pas vrygestel, en soos gewoonlik bevat dit ou bekende en nuwe country-treffers.
Die eerste snit op die album is “I couldn’t leave you if I tried”, wat oorspronklik deur Rodney Crowell gesing is. Diegene wat die rolprent Forrest Gump gesien het, sal Clarence “Frogman” Henry se treffer “(I don’t know why I love you) But I do” ken. Miskien het dit nie aanvanklik as ’n country-liedjie gewild geword nie, maar Alan se vertolking is oortuigend genoeg. “The older I get”, oorspronklik gesing deur Alan Jackson, is een van die grootste country-treffers van die afgelope paar jaar, en die woorde laat ’n mens dink oor wat regtig saakmaak in die lewe. “You’ve got to talk to me”, oorspronklik gesing deur Lee Ann Womack, is een van die hoogtepunte vanaf die album, want weer eens laat die woorde ’n mens dink. “Wagon wheel” is deur niemand anders as Bob Dylan geskryf nie, maar Darius Rucker het dit ook onlangs opgeneem. Alan se weergawe is uitstekend. “Blueberry Hill” is een van die oudste liedjies op die album; Fats Domino het dit in die 1950’s gewild gemaak en sedertdien is dit deur ’n aantal ander kunstenaars ook opgeneem. “On second thought” is die eerste van twee treffers van Eddie Rabbitt wat Alan op hierdie album opgeneem het.
Nog ’n ou bekende liedjie is “Things”, wat oorspronklik ’n treffer vir Bobby Darrin was, maar daar word nie gesê wie saam met Alan sing nie. “Crazy” was Patsy Cline se groot treffer, en ’n mens wonder hoeveel mense weet dat Willie Nelson dit geskryf het. Die tweede Eddie Rabbitt-treffer op die album, “Driving my life away”, is een van die beste snitte op die album. Eintlik sal geen country-album volledig wees tensy ’n snit van Johnny Cash ingesluit is nie; Alan het op “Big river” besluit en regtig ’n baie goeie weergawe daarvan opgeneem. “Eighteen wheels and a dozen roses” was een van die groot country-treffers van die laat 1980’s en is oorspronklik deur Kathy Mattea gesing en later onder meer deur die Suid-Afrikaanse country-groep Over the Hillbillies opgeneem. Ongelukkig word baie min moderne country-treffers gereeld op Suid-Afrikaanse radio gespeel, maar Tim Mc Graw se treffer “I like it, I love it” was ’n uitsondering en daarom het dit ’n groot treffer geword. Philip Philips het bekendheid verwerf vir sy treffer “Gone gone gone”, maar “Home” het meer van ’n country-klank, en die kitaarwerk op Alan se weergawe is baie goed. Hierdie snit is trouens nog ’n hoogtepunt op die album. “Southern streamline” is ’n baie lekker komposisie van John Fogerty, die hoofsanger van Creedence Clearwater Revival. Die laaste snit op die album is Vince Gill se treffer “Look at us”, en die country-klank van hierdie snit is onmiskenbaar.
Daar is natuurlik heelwat meningsverskille oor wat regte country-musiek is en wat nie. Sonder om by hierdie argument betrokke te raak, moet ’n mens sê dat Alan se musiek beslis as regte country beskou kan word. Dit is nie net omdat hy hoofsaaklik bona fide country-liedjies opgeneem het nie, maar ook omdat die musikale verwerkings meer na regte country as na ’n vermenging van pop en country neig. Dalk beteken dit dat hierdie album meer by country-puriste byval sal vind, maar dit is hoe dit hoort. Dis beter om hierna te luister as na pop- en rock-musiek wat bloot in ’n country-styl gesing word. Daarby het Alan ook weggebly van die oordrewe sentimentele lirieke wat country soms ’n slegte naam gee. Hierdie album is country op sy beste; die tipe musiek wat nie meer gereeld deur jonger kunstenaars, beslis nie jonger as omtrent sestig of sewentig jaar, gesing word nie. Dit gee ’n mens hoop dat country in sy suiwerste vorm sal bly voortbestaan.
Skrywer

Daantjie Dinamiet
Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.