Anderkant die highway – Gert Koevert
Soms gebeur dit dat ’n kunstenaar stil word as gevolg van depressie of ander soortgelyke faktore, maar dit gebeur nie altyd dat so iemand dit te bowe kom en voor begin nie.
Dit is presies wat met Gert Koevert gebeur het. Sy debuutalbum, Geseëld, is in 2012 vrygestel en in 2013 vir ’n Ghoema-toekenning benoem. Daarna het sy tweede en derde albums, Op pad en Net so, in 2014 en 2016 verskyn. Sy jongste album, Anderkant die highway, is egter onlangs vrygestel en volgens hom is dit sy eerlikste werk tot dusver.
Met die eerste snit, “Nuwe oë”, is alreeds ’n bewys dat hierdie album sy mees persoonlike werk tot dusver is, en dit is in kontras met sy komposisies “Want dit reën” en “Donkermaan”, wat op sy vorige album voorgekom het. “Sodwana” is ’n lekker snit wat ’n treffer kan word. “Onthou” is nog ’n goeie snit, waarin hy sing van twee mense wat saamstaan deur dik en dun. “Vry” is die eerste snit met ’n Christelike strekking; omtrent ’n jaar en drie maande voordat hy die album opgeneem het, het hy die Here se aangesig gesoek en Hom opnuut aangeneem. Die eerste Engelse snit, “Down by the river”, is nog ’n snit met ’n Christelike strekking waarin hy sing van hoe die Here hom van sy depressie verlos het.
“Vat my saam” is ’n lekker snit waarop Gert ook mondfluitjie speel. Die titelsnit is gebaseer op Mattheus 7 vers 13 en 14, waarin Jesus van die nou poort en die breë pad gepraat het. “Wentelbaan” is nog ’n ernstige snit, waarin hy sing van sy oorwinning oor sy verlede. Die album sluit af met twee Engelse snitte wat hy self geskryf het. “Father’s arms” is ’n lekker rock-snit waarin hy sing van hoe hy van depressie en alkoholisme bevry is. “Only Jesus knows” is die laaste snit op die album; die lae register waarin hy hier sing, klink baie goed. Hy sing ook van die pyn waarmee mense saamleef maar waarvan niemand anders as Jesus weet nie.
Vir baie mense sal hierdie album hul eerste kennismaking met Gert Koevert se musiek wees. Hy het homself al in die verlede as ’n talentvolle sanger en liedjieskrywer gevestig, maar dalk nog nie heeltemal die erkenning gekry wat hy verdien nie. Die feit dat hy uit persoonlike ervaring skryf, is ook ’n bewys dat hy ’n kunstenaar met ware integriteit is, en nie agter modefoefies aanhardloop of hom steur aan wat platemaatskappye van hom verwag nie. Hierdie album se eerlikheid en opregtheid maak dat dit baie sterk aanbeveel kan word.
Skrywer
Daantjie Dinamiet
Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.