4 by 4 – 4Werke
Deur die jare was daar al ’n aantal supergroepe wat bestaan het uit solokunstenaars wat bymekaargekom het om ’n album saam op te neem of kunstenaars wat uit verskillende groepe gekom het en hul eie groep gestig het.
Onder die oorsese groepe wat in hierdie kategorie val, is Traveling Wilburys en Crosby, Stills, Nash and Young, maar 4Werke is seker die enigste Suid-Afrikaanse supergroep wat tot dusver volgehoue sukses behaal het. Die syfer 4 is nie net van toepassing op die groep se naam nie, maar hul vierde album, getiteld 4 by 4, is ook onlangs vrygestel.
Dit is die tweede album sedert Liezel Pieters in Monique se plek deel van die groep geword het. Die eerste snit op die album, “Hart”, is geskryf deur Neil Schoombee en Sean Butler, en dis ook die eerste enkelsnit. Ray Dylan het “Bietjie meer van jou” saam met Neil Schoombee geskryf; dit is nog ’n snit wat maklik ’n treffer kan word. Met die uitsondering van Liezel het almal in die groep gehelp om die titelsnit te skryf. Die boodskap is dat ’n mens voluit moet lewe. Die eerste bestaande snit, “Naked”, is ’n bewys dat hulle ’n verskeidenheid musiek kan sing. “Hittete” is ’n lekker snit waarmee baie mense sal kan identifiseer omdat hulle soms skaam is om met iemand te praat. “Ek soek nie jou lyf nie” is ’n spanpoging tussen Don Kelly, Neil Schoombee, Ray Dylan en Liezel Pieters; die boodskap van dié liedjie is dat ’n mens alles in ’n verhouding moet gee.
Enigiemand wat in die 1990’s grootgeword het, sal hulle ewig dankbaar wees omdat hulle One More Time se treffer “Highland” opgeneem het; hul weergawe is net so goed soos die oorspronklike een. Die hele groep het “Voorbrand voor die vuur brand” saam met Neil Schoombee geskryf. Dit is nog ’n snit wat ’n treffer kan word. Presies dieselfde span was verantwoordelik vir “Liefde kan”; soos gewoonlik is die harmonieë baie goed op hierdie snit, en dis nog ’n moontlike treffer. Nog ’n snit wat in die 1990’s ’n groot treffer was, is “I totally miss you” van Bad Boys Blue, en laat ’n mens eerlik wees: hul weergawe is beter as die oorspronklike een. “Gravitasie” is ’n mooi snit wat Ray en Elizma saam met Neil Schoombee geskryf het. Die laaste Afrikaanse snit is “Water in wyn”, wat Neil Schoombee saam met Rudi Claase geskryf het. Die laaste snit op die album is “Particula”, wat oorspronklik deur Major Lazer opgeneem is. Dis goed dat hierdie liedjie aan ’n groter gehoor blootgestel word.
Soos gewoonlik het 4Werke met ’n baie goeie album vorendag gekom, en daar is geen twyfel dat hulle sal voortbou op die sukses van hul vorige vrystellings nie. Die vier lede van die groep is almal gevestigde kunstenaars en wanneer hulle bymekaarkom, sorg hulle elke keer vir iets baie besonders. Hierdie album word baie sterk aanbeveel.
Skrywer

Daantjie Dinamiet
Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.